Aberystwyth
Julie 2002

Hallo

Al weer drie maande verby, en dit is al weer tyd om die wêreld te laat weet ek leef nog.

Die twee langste riviere in Brittanje is die Severn en die Wye. Beide onstpring in die berge van Wallis, waar dit tot 2 m per jaar reën, die gevolg van orografiese opwelling van vogbelaaide lug vanaf die Atlantiese oseaan.

Een van die bolope van die Wye is die Elan. Omtrent 'n eeu gelede is daar 'n reeks damme in die Elan gebou, om die baie reënwater op te vang en dit Birmingham toe te stuur. Die opvanggebeid is in een landgoed saamgevat. Om die waterkwaliteit te handhaaf word daar geen kampering of derglike dinge toegelaat nie, en mens word ook net toegelaat om op sekere plekke te stap. Die hele area gee 'n gevoel van verlatenheid, ook weens die uitgewerkte myne wat 'n mens op pad soontoe teëkom. Die damme self is van klip gebou, groot grys strukture met herhalende patrone van bogies.

By die Claerwen dam was het ons 'n 'Red Kite' gesien, 'n roofvoël wat op die randjie van uitwissing was, maar met behulp van teelprogramme weer begin het om in die natuur te oorleef.

Die digter Shelley het blykbaar van sy inspirasie hier kom skep.

Die Rheidol is nog 'n rivier wat in die berge van Wallis ontspring, maar dié loop sommer vinnig tot by die see. Een van die takke van die Rheidol is die Mynach, en oor die Mynach gaan 'n brug, wat die gehuggie Pontarfynach sy naam gee. Die Engelse noem dit Devil's Bridge. Een van Aberystwyth se toeriste-dinge is om met die Vale of Rheidol smalspoor stoomtrein tot by Devil's Bridge te ry, en daar na die brûe te gaan kyk.

Daar is drie brûe, reg bo-oor mekaar gebou. Die eerste is in die middeleeue gebou, die tweede is Victoriaans, en die boonste een is 1960's. Die rede vir die bou van die eerste brug is ooglopend, want dit is die nouste deel van die kloof. Toe loop die pad natuurlik daarlangs, en dit is toe waar die volgende brug gebou moet word.

Die Mynach val hier omtrent 100m, in 'n rits kolkgate en watervalle, en vir 'n fooitjie kan 'n mens die omgewing van die waterval besigtig. Dit herhinder aan die Bourke's Luck kolkgate, net op 'n kleiner skaal en met heelwat meer mos. Dit was een van die eerste "wilde plekke" van Wallis waar mense heen gegaan het vir die uitsluitlike doel van besigtiging: die begin van toerisme.

Ek het ook die gelukkie gehad om 'n Britse Nasionale Fasiliteit te besoek. 'n Kollega het my die terrein van die MST Radar (Mesosphere, Stratosphere, Troposphere radar) gaan wys. Dit is 'n groot vierkantige terrein, met 400 Yagi antennas wat lugwaarts gerig is. Ons wou eintlik net die plek sien, maar toevallig was die projekwetenskaplike daar, wat vir ons 'n toer van die hele installasie gegee het. Die radar stuur 'n radiosein in die atmosfeer in, en uit die eggo's wat terugkom kan daar dan dinge afgelei word, soos die horisontale en vertikale windspoed, windrigting, turbulensie, wolktipes ens. Aberystwyth in 'n goeie ligging vir so 'n instrument, want frontale stelsels van die see af en berg-effekte kan kan ondersoek word.

'n Week of drie gelede het my projek sy tweede 'Progress Meeting' met die finansiers gehad. Hierdie keer was die vergadering op Aberystwyth, en ons kon ons instrumentasie demonstreer en in die algemeen 'n belangstelling in die inhoud van die projek opwek.

Ek was ook betrokke by die opstelling van 'n 'Beowulf cluster', 'n tros van 8 rekenaars wat saam gebruik word om gelyktydig aan een berekening te werk. Dit sal gebruik word in die modellerings-werk in ons groep.

In my jeug was daar 'n grappie oor 'n "diepsee mielieboer". Nou wel, hier op Aberystwyth het het 'n trekker gesien wat 'n diepsee mielieboer sal kan gebruik. Die "Aberyswyth Lifeboat" word in 'n boothuis op die hawe gehuisves, waar dit op 'n sleepwa gereed staan. Die trekker word gebruik om die sleepwa teen die lanseerbaan af by die water te kry, en omdat dit ook in stormweer gereed moet wees, is die trekker waterdig. Dit is 'n doelgeboude masjien, en dit het twee stuurwiele, een vir vorentoe bestuur en een vir agtertoe. Al die meganismes buite op is verseël, en die inlaat en uitlaat vir die enjin het 'n snorkel so hoog soos die kajuit se dak. Ek vermoed die trekker en sleepwa het die vermoë om die reddingsboot van enige strand af te lanseer en terug te haal.

Ek was op Ukkasie, en my gevolgtrekking is dat die Afrikaanse meisies baie mooier is as die Britte.

As alles goed gaan hoop ek om volgende keer te kan vertel van 'n besoek aan Skotland, en 'n konferensie in Portugal.

Groetnis

Niel


Na die kwartaalverslag-bladsy
Na die tuisblad