Aberystwyth
Oktober 2002

Hallo

Nou ja, daar is al weer 'n paar maande later, en tyd vir 'n kwartaalverslag uit Wallis.

Eastbourne

Aan die einde van Augustus is ek vir die naweek (Bank Holiday weekend) na Eastbourne. Nie vir die see soos die Britte nie, maar om by ander (ex-)Suid-Afrikaners te gaan kuier. Trevor Perks, ons gasheer, is 'n polisieman wat hom onderskei het deur by die afgrond van Beachy Head af te spring om 'n selfmoordpoging te verhoed. (Hy het darem 'n harnas en tou aan gehad!) Dit was net 'n naweek van baie lekker kuier, baie eet, en oorlogstories uitruil.


Skotland

In die werk wat ek doen word die seine wat uitgestuur word van 'n enkele satelliet af gelyktydig deur twee of meer grondstasies op verskillende plekke opgeneem, en uit die data kan die struktuur van die ionosfeer dan opgeklaar word. Hoe meer stasies daar is, hoe meer betroubaar is die struktuur. Vir die afgelope jaar of twee was daar net twee stasies in die VK, en deel van my projek was die oprigting van 'n stasie verder noord.

Op die eerste Maandag in September is ek en my baas, Len Kersley, hier weg na die noorde van Skotland, om die nuwe ontvanger te gaan instaleer. Ons het gery oor Machynlleth en Welshpool, verby Chester en tussen Liverpool en Manchester deur op die M6, tot by Carlisle. Daar het ons afgedraai, om vir die eerste nag te stop op Hawick, waar die tweede ontvanger staan.

Van Hawick af is ons verder noord, rondom Edinburgh, oor die Forth Road Bridge, tot by Perth, waar die snelweg eindig. Toe deur die sentrale hooglande tot by Inverness, van waar af die pad die kus volg, tot by Latheronwheel, waar ons afgedraai het om Caithness oor te kruis tot by Thurso.

Dit was nou Dinsdagmiddag. Van Thurso af is dit 'n paar myl wes tot by Reay, waar ons die intstallasie gedoen het. Ons het dadelik die ontvanger opgestel met 'n tydelike antenna, en binne minute die eerste satelliet gevolg. Ons het toe begin om die permanente 2 meter mas op te slaan, en kort voor lank het ons die eerste satelliet met die permanente antenna gevolg. Die opstelling was nog nie klaar nie, maar goed genoeg vir die eerste nag.

Woensdagoggend het ons 'n bietjie toeris gespeel, en was ons op John O'Groats en op Dunnet Head, die mees noordelike punt van Brittanje se hoofeiland. Die middag het ons die installasie gaan klaarmaak, wat grootliks die lê van kabels was. Voor sononder het ons die kuspad verder wes gevolg, tot by Bettyhill, en so 'n bietjie gaan kyk na argeologies oorblyfsels uit vorige eras, beide uit die steentydperk en van voor die "Highland Clearances", 'n proses waardeur die grondeienaars die inheemse bywoners van hulle grond af verdryf het.

Donderdagaand het ons in 'n kroeg in Thurso gaan luister na Skotse in Ierse musiek, gemaak deur inwoners van die omgewing. Die groot besigheid in Caithness, die graafskap waarvan Thurso die hoofdorp is, is nie skape of toerisme nie, maar kernkrag. Ons nuwe ontvanger is binne sig van die groot kernkragstasie Dounreay, waar daar omtrent 5000 mense werk. Daar word nie meer krag opgewek nie, maar daar is groot werk aan die gang om die aanleg af te takel en die terrein te herstel. Die doelwit is om dit binne 50 jaar in 'n "brownfields" terrein te omskep, d.w.s. waar daar geen meer stukture staan nie, en die terrein gereed is vir enige verdere gebruik.

Die mense in Skotland kan nie kla oor die weer nie, want die son skyn te heerlik daar, en die wind waai nie baie nie. Ek het self gesien. Ek weet nie hoekom groei die bome so skeef nie.

Donderdagoggend het ons in die rëen uit Thurso uit weggetrek, en die roete terug gevolg, met dié verskil dat ons deur die middestad van Edinburgh gery het. My baas het in Edinburgh studeer, so ek het 'n gids met 'n wye kennis van die stad gehad. Uit die bietjie wat ek gesien het kan ek glo wat die mense sê, dat dit een van die mooiste stede in Europa is.

Die ompad deur Edinburgh het natuurlik ekstra tyd geneem, maar dit het gelukkig so uitgewerk dat dit net ophou reën het toe ons Donderdagmiddag op Hawick aankom. Ons kon toe, sonder om nat te rëen, 'n nuwe, hoër antenna vir die ontvanger daar installeer. Donderdagnag het ons weer op Hawick oornag, en Vrydagmiddag was ons by die huis.


Aardskudding

Ek het dit moeilik geglo toe 'n geratel aan by deure en vensters my een nag daarvan oortuig dat ons 'n aardebewing het. Maar nou ja, die volgende dag was dit nuus, 4.8 op die Richterskaal, episentrum Dudley, in die "Midlands"


Portugal

COST 271 kan rofweg beskryf word as 'n samewerkingsooreenkoms tussen groepe van Europese navorsers in die ionosfeer, met die doelwit om tegnies bruikbare resultate te lewer. My pos word bevonds direk vir bereiking die van doelwitte van COST 271, en een van my verpligtinge is kommunikasie en samewerking met die ander deelnemers, waarvoor daar begroot is.

In die eerste week in Oktober het ek 'n werkswinkel van COST 271 in Faro in Portugal bygewoon, saam met prof Len Kersley en dr Eleri Pryse, my base. Jill Kersley, die prof se vrou, het saamgegaan. Daar was omtrent 130 deelnemers aan die werkswinkel.

Ons is Maandagoggend met die kar hier uit Aberystwyth uit weg, na Londen toe, om van Heathrow af te vlieg. Die roete was van Aberyswtyth oor Llangurig en Rhayader reguit af na Chepstow, en van daar af oor die Severn, en met die M4 na Heathrow. Ons het iewers in die middag daar aangekom, die gehuurde kar teruggegee, en toe na Terminaal 2 met die huurmaatskappy se bussie. Daar eers 'n bietjie gewag, en toe ons inboek sê hulle vir ons die vlug is vertraag, ons moet eers 'n bietjie wag totdat hulle seker is ons sal betyds wees vir die vlug van Lissabon na Faro. Ongelukkig toe nie, so toe kanselleer hulle ons bespreking vir daardie vlug, maar met 'n belofte dat daar wel 'n later vlug sou wees. Ongelukkig werk dit toe nie uit nie, en ten spyte van 'n groot geskarrel op Lissabon lughawe kry ons toe nie 'n vlug nie. Ons slaap toe in die baie deftige Hotel Roma in Lissabon. Ontbyt in die hotel, toe vlieg sonder probleme na Faro.

Faro is die hoofstad van die provinsie Algarve, die suidelikste provinsie in Portugal, op die suid-westelike uithoek van Europa. Die konferensie is gehou in die Hotel Monaco in Montenegro, 'n voorstad tussen Faro en die lughawe.

Ons mis toe die openingseremonie by die Universiteit van Algarve, maar darem nie die middagete wat daarmee saamgaan nie: cataplana, 'n bredie met garnale, mossels en varkvleis. Die res van die middag word gewei aan 'n bestuurskomiteevergadering.

Dinsgaand eet ons in die hotel, ek kan nie baie van die kos onthou nie, maar ek was baie gefassineerd om te leer oor die vorderinng wat gemaak word oor die klank van die noorderligte.

Woensdag begin die werk van die workshop, voordragte van vordering wat oor die laaste jaar gedoen is.

Donderdagoggend was dit weer net werk, maar Donderdagmiddag is ons op 'n ekskursie na die binneland, eers na Monchique en die hoogste berg in die Algarve, toe na Silves en die kasteel daar. Aandete was in 'n ou kurkfabriek in Silves, wat nou omskep is in 'n museum en multifunksie sentrum. Spinasiesop, vispastei, vye-tert, port en koffie. Na aandete was daar 'n vertoning van musiek, water en lig. As ek dit beskryf as 'n laservertoning waar water uit 'n spuitfontein gebruik word as 'n skerm, sou dit tegnies korrek wees, maar dit doen 'n onreg aan die asemrowendheid van die vertoning.

Vrydag was weer 'n dag van baie werk, en Vrydagaand was ons na Faro se middestad, waar ons in 'n toeriste-restaurant geëet het: geroosterde sardientjies met aartappels. Om 23:00 het ons 'n paar van die jonger mense op die werkswinkel per afspraak by die hotel ontmoet, en by 'n plekkie in Montenegro gaan kuier. Ek het nie gedink ek sal ooit in my lewe 'n Spaansie meisie leer om pool te speel nie.

Saterdagoggend was daar weer 'n bestuurskomiteevergadering, en Saterdagmiddag het ek vir oulaas in die hotel geëet: minestrone sop en sea bream vis.

As hierdie vertelling 'n bietjie erg uitwei oor die kos, wees verseker dat dit nie toevallig is nie. Die Portugese is nie bang om geurvolle kos voor te sit nie, koffie is espresso, en lemoensap kom uit lemoene. Vir iemand wat nie veel weet van vis en seekos nie, was dit 'n baie leersame ondervinding.

Kort daarna is ons lughawe toe, vir 'n onbesondere vlug na Lissabon. Ons vertrek uit Lissabon is 'n paar minute vertraag oor 'n passasier wat laat opgedaag het. Saterdagnag het ons in 'n hotel in Slough geslaap, en Sondagmiddag teen omtrent 15:00 was ons by die huis.

Terwyl ons weg was het die herfskleure begin uitkom.


Rainbow Warrior

Greenpeace se skip Rainbow Warrior het vir 'n paar dae buite Aberystwyth hawe voor anker gelê. Dit was seker vir 'n paar die se landverlof vir die matrose, nadat hulle 'n oorlas van hulle gemaak het tydens die aankoms van 'n besending kernbrandstof wat uit Japan uit gestuur is vir verwerking in 'n aanleg by Barrow-in-Furness. Ongelukkig is hulle weg voor ek 'n foto kon neem.


Groot Skerm

In die departement Fisika het ons nou 'n nuwe speelding: 'n Silicon Graphics "virtual reality" opstelling. Die grootste fisiese deel van die opstelling is die skerm, met 'n 2 m diagonaalmaat. Die kleure word op die agterkant van 'n matglas skerm geprojekteer. 'n Spesiale bril word gebruik waarvan die lense teen die raampiespoed deurlaatbaar donker gemaak kan word. 'n Beeld vir die linkeroog word in elke tweede raampie vertoon, en 'n beeld vir die regteroog in die volgende een, en die bril sorg dat die regte oog die regte raampie sien. Op dié manier word die illusie van 'n driedimensionele projeksie geskep. Die bril word ook deur die stelsel gevolg, sodat dit moontlik is om jou kop deur 'n virtuele venster te steek. Daar is ook 'n handkontrole waarmee mens voorwerpe in die virtuele ruimte kan manipuleer.

Ek het al demonstrasies gesien van 'n kontinentale weerstelsel, die molekulêre struktuur van glas, en van 'n kinderkuns tuin, waar alles plat is asof dit uit karton gesny is. Volgende is natuulik Doom en Quake.

Net om te troos, dit is darem nie al die universiteite in Brittanje wat sulke goed het nie. Daar is 'n spesiale projek aan die gang om hierdie tegnologie by die universiteit van Wallis in Aberystwtyth gevestig te kry, en nog groter stelsels word in die vooruitsig gestel.


Storm

Brittanje het die afgelope naweek 'n groot windstorm beleef. Windstote van tot 144 km/h is aangeteken. Baie bome het omgewaai, en daar was grootskaalse ontwrigting van die vervoerstelsels. Ek self het eers Maandagmiddag by die werk gekom, omdat daar teen Sondagmiddag geen treine meer in hierdie rigting geloop het nie. Aberystwyth en omgewing is gewilde vakansie-wêreld, en die woonwa-parke met hulle rye op rye "mobile homes" het groot skade gehad: by Borth het een op die treinspoor beland!


Noudat die horlosie weer 'n uur terug gestel is, kan ek seker nie meer ontken dat die winter op pad is nie. Van nou af is dit net minder en minder lig en meer en meer reën, maar as ek weer skryf is ons weer op pad daar uit, en was ek met vakansie aan die regte kant van die ewenaar.

Groetnis

Niel


Na die kwartaalverslag-bladsy
Na die tuisblad