Aberystwyth Semesterverslag
Hier dan nog 'n persoonlike rapport vanaf Kronkelriviermond, die dorpie op die strand van Truibaai; of soos dit dalk beter bekend is, Aberystwyth en Cardigan Bay.
Portmeirion
In Januarie was daar 'n weervoorspelling vir 'n Saterdag van mooiweer en sonskyn, toe haal ek 'n trein met die kus langs noord na die stasie by Minffordd. 'n Pragtige laning eikebome wat my 'n uitsig gegee het van 'n sneeubedekte Mount Snowdon lei van Minffordd na Portmeirion. Dit is baie moeilik om te beskryf wat Portmeirion is. Dit is nie 'n dorpie nie, hoewel dit die vorm van een het, maar dit word bedryf as 'n hotel. Die hele plek is uitgelê en gebou deur een argitek (William Clough-Ellis), oor sy hele leeftyd. Die styl is ietwat Italiaans, en die omliggende tuine is vol eksotiese plante, dammetjies en pagodas. Die geboue is in alle kleure geverf en hier en daar met goud versier, wat in sterk kontras staan met die tradisionele Walliese grys klip. Heel kamers en 'n suilgang is elders gered en hier geïnkorporeer. Die hele ervaring is byna surrealisties.
"Portmeirion" porselein is vernoem na hierdie plekkie (waarvan selfs die naam 'n nuutskepping is), maar word in Staffordshire vervaardig.

Koor
In Wallis is jy natuurlik nie 'n man as jy nie sing nie, en op 14 Februarie het ek saam met die "Aberystwyth Choral Union" opgetree in 'n konsert. Ons het begin met werke van William Walton en Vaughan Williams, maar die hoof-werk is deur Karl Jenkins gekomponeer, 'n moderne stuk met die titel The Armed Man: a Mass for Peace.
Daar was drie van ons uit die departement Fisika (ekskuus, Instituut vir Wiskundige en Fisieses Wetenskappe) wat in die koor gesing het.

Sneeu
Die laaste week van Februarie is daar nie veel gewerk in Aberystwyth nie. Op die Maandag en die Woensdag het die onderwyspersoneel van die Universiteit gestaak, en Donderdagoggend het dit begin sneeu. Teen middagete het dit al dik gelê. Sneeu hier is baie skaars, en net so eenmaal in vyf jaar val dit soos dit vanjaar geval het. Glibberige sneeu teen steil heuwels maak dit natuurlik baie gevaarlik om te bestuur, en die verkeer het byna to stilstand gekom. Op 'n kampus wat teen 'n helling gebou is is dit selfs gevaarlik om te loop, en die Universiteit het gesluit. Teen Vrydagmiddag het die son uitgekom, en was dit tyd om foto's te neem.

Royal Armouries Museum
In Leeds is daar 'n splinternuwe museum van die Royal Armouries: dieselfde organisasie wat in beheer is van die Tower of London. In hierdie museum word 'n groot klomp wapens uitgestal: meestal gereedskap goed waarmee een mens gate in 'n ander mens maak. Die ontwikkeling van die geweer word goed uitgebeeld met voorbeelde uit die geskiedenis (soos 'n Mauser met die naam "Fourie" daarop uitgekerf), en daar is 'n interessante versameling uit die Ooste. Maar die een asemrowende uitstalling is die Hall of Steel - teen mure van die trapskag, 'n vyf-verdieping rangskikking van swaarde, gewere, lanse, pistole, borsplate en bajonette.
Edinburgh
Die laaste week van Maart is ek na Edinburgh vir 'n konferensie. Die grys weer pas die grys ou stad goed, en die Princes Street Gardens was al vol kleur met lenteblomme.
In die hawe van Leith lê die voormalige koninklike jag, Britannia, wat nou oopgestel is vir die publiek, net soos sommige paleise. Die styl van die koninklike kwartiere is stil en bedees. Die enjinkamer is chroom en wit. Die kombuis werk nog, en die eetkamer word vir funksies uitverhuur. Hierdie skip bewys dat as iets van hoëgehalte materiaal gemaak word, en dit word met voldoende sorg onderhou, dit nie oud hoef te word nie.
Daar was ook tyd vir 'n konsert in die Usher Hall, met die Scottish Chamber Orchestra.
In Edinburgh Kasteel word die Skotse kroonjuwele bewaar — 'n kroon, 'n swaard en 'n septer. Vir tyd en wyl word dit deur niemand gebruik nie. Nadat Skotland polities met Engeland verenig het, is dit vir 111 jaar lank toegesluit, totdat mense begin wonder het of dit nog bestaan. In 1818 is die kamer en die kis waarin dit gebêre was oopgebreek, en vandag word dit onder die wakende oog van 'n polisieman in 'n kluis uitgestal.
Staptoer oor Paasfees
As 'n mens op 'n padkaart kyk, en sien dat die paaie yl is in 'n sekere area, dan weet 'n mens die wêreld daar is onherbergsaam, en dat daar 'n woestyn of 'n moeras of iets is. Van noord na suid oor die kaart van Wallis af is die padnetwerk so yl, en oor Paasnaweek het ek my stewels aangetrek en gaan kyk wat daar is. Daar is berge.
Op die eerste dag spring ek in pragtige sonskynweer van die kus af weg, min of meer met die loop van die Ystwyth-rivier (wat Aberystwyth sy naam gee) langs tot by Pontrhydfendigaid. Van middagete af het dit al hoe gryser geword en begin motreën, maar dit was droog en warm in die Rooi Leeu hotel waar ek oornag het. (Die ander opsies was die kampeerterrein of die Swart Leeu — in Wallis is 'n mens nooit ver van 'n Llew Du (Black Lion) af nie.)
Saterdagoggend se ontbyt sluit my eerste "black pudding" in, en nadat ek die vriendelike huishoudster die pad gevra het, gaan kyk ek hoe lyk die ruïnes van Strata Florida, 'n Cisteriaanse abdy, en van daar af is ek die berge op en die plantasies in, en weer aan die anderkant af met die loop van die Towi-rivier langs. Hier was die grond baie nat: op een plek kon ek nie die verskil tussen die pad en die rivier sien nie! Elders, in 'n verydelde poging om my stewels droog te hou, beland ek tot by my knieë in 'n bog. Selde was ek so bly dat ek besluit het om 'n kortbroek te dra ten spyte van die koelheid van die lug.
Die dag eindig by 'n eensame plaashuis met 'n warm steenkoolvuur wat as jeugherberg gebruik word.
Sondagoggend is dit weer deurdruk ooswaarts, eers opdraende en toe weer met die "Devil's staircase" af die volgende vallei in, middagete by Abergwesyn, en verder tot weer in die 'beskawing' by Belauh en Garth. Sondagaand gaan die son pragtig onder en slaap ek buite Garth in 'n plantasie waartoe die publiek toegang het.
Maandagoggend haal ek 'n trein van Garth af terug na Aberystwyth. Ek is bly die mis was so dig want dit het beteken dat ek nie veel van die andersinds uitstekende landskap gemis het nie, al het ek die rit omgeslaap.
Suid-Engeland
Ek het op die mees suidelike punt van Brittanje, die Lizard, oornag. (Wel, in 'n herberg 'n klipgooi daarvandaan.) Hier dryf die misbanke verby en laat die vuurtoring se mishoring fluit - 'n heel ander geluid as die diep dreun wat die populêre media 'n mens laat verwag. Lede van die RSPB (Royal Society for the Protection of Birds) hou hier wag oor die eerste broeipaar van "choughs" in Engeland sedert 1952, 'n belangrike voël in die mitologie van Cornwall.
Ek is nou die trotse besitter van foto's van myself by Land's End en John O'Groats. Tydens dieselfde reis was ek in Torquay, "The Riviera of the South", waar dit al goed somer was terwyl dit elders nog lente was.

Admiraal Nelson se vlagskip die Victory lê in Portsmouth in 'n droogdok, en is die oudste dienende oorlogskip in die wêreld. Dit is verstommend groot, en daar word gereken dat daar 60 akker se eikebome gebruik is vir die konstruksie daarvan (geen wonder Engeland is ontbos nie.) Dit is ook verstommend klein as 'n mens hoor dat daar met die slag van Trafalgar meer as 800 mense aan boord was.
Nelson was seker 'n goeie admiraal en Trafalgar 'n klinkende oorwinning, maar die vreeslike klem op Nelson en die Victory in die vertellings op die skip en in die museum langsaan lyk vir my vreeslik baie na heldeaanbidding
As die Britte nie die slag van Trafalgar gewen het nie, dan het hulle dalk nie so geredelik in die Kaap gebly nie, en was die Suid-Afrikaanse geskiedenis heel anders.
As deel van die kompleks van besienswaardighede by Portsmouth is 'n uitstalling van die wrak van die Mary Rose in 'n beskermende atmosfeer. Toe Nelson dood is, was hierdie skip al 250 jaar op die seebodem, nadat dit omgeslaan en gesink het. Slik het 'n groot deel van die hout bedek en dit so behoue laat bly, totdat dit in 1984 uitgehaal is. Die hout word nog met poli-etileenglikol behandel om dit te bewaar - oor so tien jaar sal dit in droë lug uitgestal kan word.
Steengroewe en Spoorlyne
Die verstedeling wat met die industriële revolusie gepaardgegaan het het aanleiding gegee tot 'n groot vraag vir nuwe behuising. Een van die groot probleme was die beskikbaarheid van 'n duursame dakbedekking, en so het daar dan 'n enorme vraag ontstaan na leiklip vir dakke. Die grootste produseerders van leiklip in die 19de eeu was in noord-Wallis. Dit was 'n groot industrie: behalwe vir die steengroewe was daar ook spoorlyne, hawens en skepe nodig om die klip uit te voer. Hulle het nog nooit opgehou nie - dieselfde maatskappye vervul vandag nog die baie kleiner vraag.
"Steel 'n skaap van die berg af, en hulle hang jou op, maar steel 'n berg, dan maak hulle jou 'n Lord." By Llanberis is die Walliese Leiklipmuseum, gehuisves in die geboue van die nabygeleë Dinorwig steengroef. Om 'n berg te steel is nie sommer 'n uitdrukking nie: die landskap is ongetwfeld verander.
By Blaenau Ffestiniog is 'n ondergrondse steengroef oop vir besoek. Toegang is per spoor, in die een deel per trem die berg in, in die ander deel met 'n skuinsskag die dieptes af. Die toer lei van een enorme kamer na die volgende, elkeen met die hand en 'n bietjie buskruit uit die berg gekerf. Dit is ook die plek waar die diepste troue ter wêreld gehou is.
Daar is vandag 'n taamlike bitterheid onder die inwoners te bespeur. Die (Engelse) groefeienaars het miljoenêrs geword, terwyl die lewensverwagting van 'n steengroefwerker omtrent 40 jaar was. (Silikose is eers in 1974 erken as 'n industriële siekte.) Die omgewing is ontsier deur die afval van die produksie - slegs omtrent 2% van al die rots wat verwyder is is in leie omskep. Terselfdertyd is daar 'n taamlike trots in die vaardigheid wat nodig is om die rots uit te haal, te splyt en tot maat te breek.
In die jare tagtig is by Llanberis 'n nuwe tonnelproses die berg in begin, maar hierdie keer nie om klip uit te haal nie, maar elektrisiteit. 'n Berg met 'n dam aan die bokant en 'n meer aan sy voet leen hom uitstekend tot die opwekking van elektrisiteit. Die kapasiteit van die Dinorwig kragstasie is 1700 MW, wat nie vreeslik groot is nie, en kan dit net vir 5 ure lewer, dan is die water op. Maar hierdie kragstasie kan binne 10 sekondes 'n turbine aan die loop kry, en word daarom gebruik om aan piektye aan die hoë vraag te voorsien. Wanneer die vraag laag is en die elektrisiteit goedkoop, word die turbines as pompe gebruik en die water weer na die boonste dam gepomp. Die hele kragstasie is in die berg versteek; die turbienkamer met sy ses vertikale opwekkers is 'n grot verskeie voetbalvelde groot.
Talle smal spoorlyne is gebou om die leiklip en ander minerale van Wallis by die kus te kry waar dit op skepe gelaai en uitgevoer is. Baie van hierdie spoorlyne is nog in gebruik, maar vervoer nou nostalgiese toeriste, natuurlik met stoomtreine. Behalwe vir die belangstelling in stoom, gee hierdie spore ook maklike toegang tot andersinds onherbergsame en baie mooi areas. Hierdie spore het ongeveer dieselfde wydte as Suid-Afrika se treinspore, en ingevoerde lokomotiewe en waens is nogal algemeen.
Llanberis is ook die beginpunt van die spoor wat tot by die piek van Mount Snowdon loop. Yr Wyddfa (Snowdon se Walliese naam) is die hoogste berg in Wallis, omtrent so hoog soos Tafelberg en net so populêr. Maar anders as Tafelberg het Snowdon nie 'n kleedjie nie maar 'n swaar, grys wolkombers. Ek het nie met die treintjie berg-op gery nie.
Ierland
Ek het ook die geleentheid gehad om Ierland toe te gaan. Per veerboot oor die Ierse see van Fishguard na Rosslare, en van daar af reg oor die eiland na Limerick. Ons het twee kastele besoek, "Bunratty Castle" en "King John's Castle". Middagete geëet in Tipperary, op dieselfde pad terug. Ierland is inderdaad baie groen. Hoewel Ierland onafhanklik is, is die verskil tussen Brittanje en Ierland vir die oog en die oor soortgelyk aan die verskil tussen England en Wallis.

Bunratty Kasteel. Foto: Helen
Middleton

Koning Johannes se Kasteel. Foto:
Helen Middleton
Cosford Lugskou
By die lugmagbasis op Cosford is daar 'n groot lugvaartmuseum. 'n Verfrissende aspek van hierdie museum is dat nie net die nostalgiese Spitfires en V2 vuurpyle is uitgestal word nie, maar 'n wye verskeidenheid eksperimentele ontwerpe, soos die TSR2 met 'n lugraam van vlekvrye staal, en die prototipes van die BAC Lightning. Daar is ook groot versamelings enjins en missiele, en 'n afdeling oor die ontwikkeling van die uitskietstoel.
Een verrassing wat ek hier raakgeloop het is die Auster Antarctic — een van twee Auster T7 vliegtuie wat vir werk Antarktika aangepas was en deur die Fuchs/Hillary 1958 Commonwealth Trans-Antarctic Expedition gebruik is.
Op Cosford is daar 'n jaarlikse lugskou. Verlede jaar s'n was gekanselleer weens die oorlog in Irak, maar hierdie jaar het dit voortgegaan. Net soos op Swartkops of Lanseria is die geraas lieflik en die vliegkuns voortreflik, maar hier is die gras soos 'n groen grasperk, en daar is niks stof nie.
Ek beplan om in Julie die groot lugskou by Farnborough by te woon.
Wallies/Cymraeg
My Walliese klasse het onlangs vir die jaar geëindig. Dit is nogal 'n verligting, want 4 ure per week is baie werk. Ek kan natuurlik nog nie vlot praat nie, maar kan al sin maak uit koeranopskrifte en plakkate, en met 'n bietjie geluk dinge soos stasie-aankondigings verstaan.
Slot
Die volgende kwartaal is my laaste op Aberystwyth, en al wat van die projek by die werk oorbly is 'n finale verslag en 'n vergadering. Ek gaan nog 'n slag Duitsland toe, om vir nuwe familie en ou vriende te gaan kuier. Hopelik is daar nog 'n laaste kwartaalverslag.
Groete
Niel
