Ten spyte van my beste bedoelings het ek nie hierdie jaar my kwartaalverslae uitgebring nie, en ek bied hierdie jaarverslaggie as plaasvervanger aan.
Die jaar het vir my met 'n slag begin. Van intrapslag in Januarie tot in Maart moes ek opleidïng gee vir nuwe mense in ons navorsingsgroep.
In April het ons die eerste van ons nuwe satelliet ontvangers in gebruik geneem: 'n groot stap in die rigting van digitale seinprosessering, gebaseer op die Apple Mac G4, met slim eletronika uit Finland. Natuurlik peperduur.
Aan die einde van Mei was ek vir twee weke in Duitsland, waar ek vir by die DLR (Sentrum Lug- en Ruimtevaart) gewerk het. Ons het die ionosferiese radio-okkultasie metings van die DLR se CHAMP-satelliet met ons ionosferiese tomografie vergelyk.
Die dorpie Neustrelitz waar ek gewerk het, het behalwe sy groot possorteersentrum en satellietaardstasie nie veel om op te roem nie, 'n klein dorpie in die mooiste en armste deel van oos Duitsland. Die een interessantheid is dat die naam vir die kraanvoëlblom, strelitzia reginae, van Neustrelitz afkomstig is. Dit werk so: Joseph Banks wat baas was van die Koninklike Botanies Tuine by Kew het in 1773 'n mooi blom uit Suid-Afrika gekry. Hy het dit geklassifiseer en vernoem na sy koningin, wat baie vir die tuinbou gedoen het. Sy was Charlotte Sophie, prinses van Meckelenburg-Strelitz, en was met koning George III getroud.
Die jaarlikse COST 271 werkswinkel is hierdie jaar in September op die Griekse eiland Spetses gehou. Ek het 'n plakkaat voorberei van die werk wat ek in Duitsland gedoen het, maar ongelukkig het my paspoort op pad terug van die visa-aansoek in die pos vertraag geraak, en die hele uitstappie is toe na die maan.
Sedert die einde van September volg ek 'n kursus in Wallies. Teen vier ure per week is dit nogal druk, maar die vordering is fluks. Ek is nou al gewoond aan die alfabet met 28 letters en weet hoe om 'cwrw' uit te spreek, maar dit sal nog 'n rukkie wees voor ek al die gebruik van die drie soorte mutasies bemeester het.
Groetnis
Niel
Na die kwartaalverslag-bladsy
Na die tuisblad