Aberystwyth
April 2002

Hallo

Ek is nou al meer as drie maande hier in die VK, en party mense wonder seker al of ek doodgegaan het van gebrek aan sonskyn, so hier is 'n omsendbrief om te vertel wat die stand van sake is.

Ek het op 9 Januarie op Birmingham geland, en op 14 Januarie begin werk. Vir die eerste maand of so het ek in studente-akkomodasie gewoon, 'n stel van ses slaapkamers wat 'n kombuis en badkamers deel. Dit was heel gerieflik, en die studente was interessant en vriendelik, maar dit het die nadeel gehad dat ek nie daar gaste kon ontvang nie. Daarom het ek my eie woonstel gekry, waar ek sedert die middel van Februarie bly. Dit is in die middel van die dorp geleë, baie sentraal. Ek stap 20 minute werk toe, en 5 tot by die see.

Ek het elektriese verhitting, en die stelsel is interessant. Dit verwarmer is 'n muureenheid, wat vol (spesiale) bakstene is. In die middel van die nag, as die vraag na elektrisiteit laag is, word die toevoer aangeskakel, en die eenheid word warm. Deur die dag word die hitte dan afgegee. Die tarief vir hierdie elektrisiteit is laer as die gewone. Die wasbakwater word met dieselfde elektrisiteit warm gemaak, maar stortwater word met 'n elektriese eenheid wat met die duur elektrisiteit werk.

By die werk gaan dit goed. Die inhoud vind ek baie soos ek dit verwag het. Daar is nogal baie werk, want die tipe werk wat ek moet doen het 'n jaar or twee stilgestaan. Die IT-omgewing is vir my baie aangenaam, met 'n vriendelike vermenging van Unix en Microsoft. Die internet-toegang is 'n groot plesier, baie bandwydte, min beperkings, en kort reaksietye. Ek het aan die begin gesukkel met die UK Keyboard, want die @ en die " is omgeruil, en daar is 'n £ waar daar gewoonlik 'n # is, maar daaraan is ek nou gewoond. Die ander ding wat swaar was aan die begin was die aksente: in ons groep alleen is dit Wallies, Skots, Yorkshire, Indies en nou Afrikaans ook.

Die fisiese werktruimte is minder as waaraan ek gewoond is. Ons is ses assistente en nagraadse studente wat 3 kamers deel, met ons satelliet-ontvangers en bediener-rekenaar-goed en drukkers daarby ingesluit. Dit is min of meer die norm in die departement. Die gebou is in die vroeë jare 60 gebou, skat ek.

Aan die begin van Maart was ons vir 'n vergadering an die Rutherford Appleton Laboratories, 'n groot regeringsnavorsingsinstansie, naby Abington, suid van Oxford. Dit is omtrent 4 ure se ry soontoe, en weer soveel terug. Dit was die eerste vergadering, en die amptelike begin van die projek. Die projek is deel van 'n Europese tegnies/wetenskaplike samewerkingsprogram, COST 271. Die wegspring was nie te goed nie, want dit is 'n klomp nuwe mense wat die projek moet monitor, en hulle is nog ingenieurs ook.

In Januarie en Februarie was die weer taamlik aaklig, gedurige storms met baie reën en koud, maar sedert die aanbreek van die lente is dit baie beter, natterig by tye, maar nie te koud nie. As die weer mooi is is dit baie mooi. Met paasfees was daar oral afodille, en die tulpe kom nou uit.

Die dorp Aberystwyth vind ek baie aangenaam. Dit is nie 'n groot plek nie, maar groot genoeg vir 'n McDonalds met 'n 'drivethrough'. Al die groot banke het takke hier, en hier is 'n Safeway supermark. Meeste van die geboue in die middedorp is Vicoriaans of Edwardiaans, maar op die buitewyke is daar taamlike nuwe uitbreidings. Baie mense woon in die dorpies in die omgewing en pendel werk toe. Daar is 'n taamlike druk vir behuising, maar gelukkig is die prys van huisvesting steeds heelwat laer as in ander dele van die land. Daar is twee flieks op die dorp, een in die dorp, en een by die Arts Centre van die Universiteit, waar daar ook gereeld ander konserte is. Hier is ook 'n treinstasie (aan die einde van die lyn.)

Buite die dorp is dit platteland, maar glad nie plat nie, dit is net heuwels op heuwels in alle rigtings, nie te hoog nie, maar baie steil. Al die heuwels het skape op. Daar is ook plantasies op sommige plekke, en noudat dit lente is loop die beeste buite rond. Van hier af is daar twee 'wind farms' sigbaar, groepe windopwekkers wat op die heuwels staan en elektrisiteit uit die seewind uit haal.

Die Universiteit domineer absoluut die dorp. Daar is geen ander groot werkgewer nie, en die wat daar is sou kleiner wees as daar dit nie vir die Universiteit was nie. Daar is 7000 studente, waarvan 500 uit die EU en 400 uit lande buite die EU kom. 40% van die studente is van Wallis, en 15% praat Wallies (maar min van hulle is in die wetenskap.) Die universiteit het drie kampusse, die neo-Gotiese 'Old College' langs die see, die Penglais kampus waar ek werk en waar die hoofbiblioteek is, en dan die Llanbadarn kampus, waar die landboufakulteit is. Ander groot akademiese instansies is die National Library of Wales, wat gehuisves word 'n indrukwekkende groot gebou, indrukwekkende geleë op 'n heuwel buite die dorp, en IGER, die Institute of Grassland and Environmental Research. Dan is hier natuurlik ook skole in Wallies en in Engels.

Ek het al 'n bietjie tyd gehad om die omgewing te verken. Met paasfees het ek met ander mense deur Snowdonia National Park gery na Caernarfon, en daar oornag. Een Saterdag het ek met die Vale of Rheidol stoomtrein gery tot by Devil's Bridge, en die dag daar deurgebring. Daar is 'n paar damme in die Elan-vallei, waarna ek gaan kyk het. Ek was al op Aberaeron, Newquay, Borth en te voet op Clarach, plekkies nie te ver hiervandaan nie. Die groot besigheid in die plekkies langs die see is toerisme, want die Engelse hou daarvan om vakansie te hou langs die see.

Dit is dan hoe die sake nou staan. Ek is ingeburger, opgewarm en reg vir die lang skof.

Groetnis

Niel


Na die kwartaalverslag-bladsy
Na die tuisblad