Hallo

Ons het Sondagaand teruggekom van 'n vier-dae veldrit af. Sewe van ons het vliegtuigbrandstof gaan depot naby 'n berg met die naam Nashornet. Hierdie brandstof is voorraad in geval daar soek-en-reddingsoperasies gedurende die oorname nodig is. Terselfdertyd is dit 'n wegkomkansie of vakansie vir ons voor die groot werk vir die oorname begin.

Ons het gery met 'n Challenger en twee sleë. Op die eerste slee was die vrag: 10 dromme vliegtuigbrandstof, 'n 4000 liter tenk met diesel vir die Challenger, 'n skidoo en sy personeelslee, en die een en ander los stukkie toerusting. Die tweede slee was die caboose, 'n soort karavaan.

Ons is Donderdagmiddag hier weg, en het omtrent 21:00 by die Grunehogna-basis aangekom. Hierdie is 'n ou somerbasis wat voorheen deur die helikopterbemannings bewoon is, maar nou nie meer gebruik word nie. Ons hierdie basis met paasfees laas bewoon en 'n goeie toestand gelaat, maar toe ons daar kom vind ons hom byna onder die sneeu begrawe. Ons moes maar die grawe inspan om by die deure uit te kom, en 'n bietjie spartel om die deure oop te kry teen al die sneeu wat ingewaai het.

Die 'power shack', die geboutjie waar die kragopwekkers in staan was die meeste moeite, maar ook die belangrikste. Met die kragopwekker aan die gang het ons ligte, hitte en water. Daardie Deutz enjin is wonderlik. Ons het net die sneeu afgekrap, 'n bietjie 'quickstart' gespuit, toe loop hy.

Teen omtrent middernag eet ons 'n laat aandete van boerewors en kitsnoedels, en teen 02:00 is ek in die bed.

Vrydagoggend teen omtrent 11:00 vertrek ons na Nashornet. Die woord 'Nashornet' is Noorweegs vir renoster, maar die plek waarheen ons op pad is 'n paar rotse noord van Nashornet. Hierdie rotse word genoem Nashornkalvane, die 'renosterkalwers'. Uit die verte lyk dit nogal asof dit 'n groot dier kan wees met twee klein kalfies wat agterna loop.

Die pad na Grunehogna is gemerk met dik 3 meter pale, omtrent 'n kilometer uit mekaar. Dit is omgelooflik om te sien hoe die sneeu kan opbou. Na net een seisoen is sommige van die pale so diep begrawe dat daar nog net 'n puntjie uitsteek. Anderkant Grunehogna is die roetes nie meer gemerk nie. Hier maak ons vir navigasie staat op GPS, en 'n stelsel van bekende 'waypoints'. Die drywer van die voertuig het 'n GPS-eenheid by hom gemonteer. Dit is 'n ding wat lyk soos 'n groot sakrekenaar, wat voordurend vir jou wys of jy nog op roete is, en hoe jy moet stuur om daar te kom. Dit gee ook sommer jou spoed, rigting, en hoe lank nog tot by jou bestemming.

Die eerste deel van die oostelike roete vanaf Grunehogna is noga steil, en ons sit tweekeer vas. Dan grou die Challenger se rusperbande in die sneeu in, maar ons kom nie vorentoe nie. As dit gebeur haak ons die caboose af en sleep die vragslee alleen tot waar dit nie meer so steil is nie, haak hom af en ry terug en gaan haal die caboose.

Die pad na Nashornet gaan verby Istind. Istind is 'n pragtige hoë bergpiek, waarvan die een kant met ys bedek is. Hier laai ons vir Duncan en Karel, die twee bergklimmers, saam met 'n skidoo af sodat hulle die klimbaarheid van die berg kan inspekteer. Istind is nog nooit geklim nie. 'n Paar uur later is hulle terug, en ons ry verder. Ook maar net betyds, want kort daarna kom die wind op, wat dit baie ongerieflik vir hulle sou maak.

Presies 20:00 kom ons by Nashornkalvane aan, waar die aflaai van die 10 dromme 'n paar minute neem terwyl Karel en ek probeer met SANAE praat op die radio. Istind is in die pad, en die praatjie nie so goed nie, maar ons kan hulle darem laat verstaan ons is veilig. Ons het elke dag kommunikasie om 08:00 en 20:00 met die ouens wat by die basis gebly het, sodat hulle weet ons is nog veilig en hoe ons vorder.

Ons kamp nie ver van die depot af nie, en ons trek die caboose en die slee langs mekaar sodat ons van die wind afgeskerm is en kan braai. Hier is ons nou in die oop veld, en ons moet in die caboose slaap. Daar is 'n gasstoof in om op kos te maak, en met 'n klein kragopwekkertjie het ons elektriese ligte ook. Ons kan ook 'n skootrekenaar laat loop om die prentjies van die digitale kamera af te laai.

Ek en Mike slaap in die kajuit van die Challenger, want daar is maar min plek in die caboose. Challenger 3 is uniek, in die opsig dat hy 'n groot kajuit het met plek vir twee mense om te slaap. Op 'n veldrit skakel ons nie die Challenger se enjin af nie, omdat dit probleme kan veroorsaak as hy nie weer wil vat nie. Dit beteken die verwarmer werk ook, sodat dit nie te koud word nie.

Saterdagoggend kom ons na 'n ontbyt van opgewarmde braaivleis, weense worsies en sop aan die gang. Dit is bewolk, maar sonder veel wind, toe ons met die skidoo tot op die ruggie ry. Bo-op kry ons 'n vreemde installasie, 'n wit tetraheder, iemand se eksperiment van vroeër of iets, ongeïdentifiseer en ongemerk. Ons laat dit maar onversteur. Dit is baie opwindend om iets mensgemaak in hierdie verlate wêreld te kry.

Van daar af klim ons op die koppie, waar ons 'n goeie uitsig oor die Jutulstraumen het. Die Jutulstraumen is 'n groot gletser, 300 km lank, wat direk van die Antarktiese plato af in die see uitloop. Ongelukkig maak die bewolkte weer dat ons nie die groot areas van gletserskeure kan uitmaak nie. As dit so bewolk is is daar nie skaduwees nie, en omdat alles wit op wit is kan 'n mens dan niks sien nie. Een van hierdie gletserskeur areas staan bekend as die Jutulsplogsla, die "reus se geploege land."

Anderkant die Jutulstraumen, oos van ons, kan ons die Sverdrupfjella-berge sien, en suid-wes van ons die Borg-massief. Na die noorde en weste is Istind, Grunehogna, Preikestolen en die ander berge van die Ahlmannryggen. Suid is daar net ys, ys en nog ys tot op die suidpool.

Om 13:45 verlaat ons Nashornkalvane, en met net een kort stoppie vir koffie ry ons terug tot by Grunehogna, waar ons teen 17:30 aankom. Weer moet ons die deure oopgrawe, na net een dag se wind, maar gelukkig het daar nie baie sneeu ingelek nie. Ons probeer nie om die slaapkamer oop te kry nie en besluit liewer om in die caboose te slaap. Hier op Grunnies het ons baie krag, en ons kan die caboose se elektriese verwarmers gebruik.

Omdat ek heelpad bestuur het is ek baie moeg, en toe ons klaar die varkworsies, weense worsies en Smash wat James vir ons gemaak het geëet het gaan ek slaap, weer in die Challenger se kajuit.

Sondagoggend is die weer glad nie belowend nie. Dit is dik bewolk, en daar waai 'n nare wind. Toe ek klaar met SANAE gesels het lê ek in die bed en lees. Teen 10:00 het dit opgeklaar, en die wind redelik bedaar. Met 'n ontbyt van varkworsie en roosterbrood agter die blad is dit tyd om te verken, en ek gaan stap om die berg, terwyl die twee dapper bergklimmers en Erenst die berg uitklim. Agter die Grunehogna berg is daar die grootste stuk blou ys wat ek nog gesien het. Die rotspuin wat van hierdie berg af val is verstommend. Mens kan honderde soorte klippies op een plek sien, groot en klein, soort van 'n natuurlike 'scratch patch.'

Teen 14:00 skakel ons vir die laastekeer die Grunehogna kragopwekker af, en ons val in pad terug huis toe. Die pad tussen Vesleskarvet en Grunhogna is die stamperigste van die hele reis, en dit vertraag ons baie. Vir meeste van die reis het ons byna ideale oppervlaktoestande gehad, sodat ons tot 20 km/h kon ry. Op die stamperige gedeeltes is die sneeu hard en baie ongelyk, sodat 'n mens baie stadig moet ry, anders skud die voertuig en sy insittendes uitmekaar.

Teen 19:00 Sondagaand is ons terug op Vesleskarvet waar ons gou-gou aflaai in 'n 50 km/h wind, betyds klaar vir aandete en 'n warm stort.

Groetnis

Niel