Verrassende wetenskaplike waarneming tydens opleiding vir Antarktiese ekspedisie

Drie wetenskaplikes van Potchefstroom het 'n seldsame sonvlam waargeneem tydens 'n opleidingsprojek. André Benadie, Zinho Njovane en Niel Malan het 'n instrument opgestel vir opleidingsdoeleindes toe die waarneming gemaak is.

Njovane vertrek in Desember na Antarktika waar hy die jaar 2001 gaan deurbring as lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE). As deel van sy opleidingsprogram het Benadie, die programbestuurder, en Malan, 'n terugkerende ekspedisielid, hom bygestaan met die opstel van 'n uiters sensitiewe radio-ontvanger. Hierdie soort ontvanger registreer interessante gebeurtenisse van absorpsie van kosmiese radiogolwe te SANAE. Hierdie absorpsies van radiogolwe kom dikwels voor in die Antarktiese ionosfeer. Rondom die breedtegraad waarop Suid- Afrika lê het ons nog nie interessante absorbsie van radiogolwe in die atmosfeer gesien nie. Maar nie hierdie keer nie! 'n Uur of twee nadat die ontvanger in werking gestel is, was daar 'n sterk absorpsie gevolg deur 'n sterk toename in radio-intensiteit.

"Ons kon dit nie verklaar nie totdat ons op die internet tuisblad www.spaceweather.com gesien het dat daar 'n sonvlam was. Dit was 'n enorme uitbarsting uit die son se oppervlak, wat geweldige hoeveelhede stralings-energie en materie die ruimte ingeskiet het. Die X-strale vanaf die sonvlam het eerste ons ionosfeer bereik en verhoogde ionisasie veroorsaak. Dit het gelei tot waarneming van verhoogde absorpsie van kosmiese radiogolwe. Ná tien minute is die radiogolwe wat deur die sonvlam uitgestraal is opgevang, en het dit tot 'n sterk toename in registrasie van intensiteit op die radio- ontvanger gelei. Die radio-onvanger is vir 'n tydperk van 3 ure oordonder deur die enorme hoeveelheid radio- golwe wat deur die son uitgestraal is. Hierna het dinge verbeter, en die opname het weer sy normale gang getoon."

Die aanvangstyd van hierdie gebeurtenis stem presies ooreen met die tyd wat NASA waargeneem het. Hierdie sonvlam het Woensdagoggend (12 Julie 2000) versteuring van radiokommunikasie oor die hele sonkant van die aarde veroorsaak.

Sonvlamme van hierdie energie (X-klas, wat x-strale uitstraal) kom enkele kere per jaar voor. Vanjaar is die maksimum van die son se aktiwiteit in sy 11- jaar siklus, en nog uitbarstings word voorspel.

Niel Malan
13 Julie 2000
Potchefstroom